Deel

‘ . . . en daar lê Anaya!’

Die titelgeveg tussen Arnold Taylor en Romeo Anaya op 3 November 1973 in die Randse Stadion was ’n epiese stryd – in die woorde van die boksskrywer Chris Greyvenstein, “waarskynlik die moorddadigste en mees dramatiese geveg in Suid-Afrika se boksgeskiedenis”. Bun Booyens vertel.

Romeo Anaya

Arnold Taylor is voor die geveg herhaaldelik gemaan om uit die pad te bly van Romeo Anaya se gevreesde linkerhaak, die hou wat reeds ’n stuk of 30 uitklophoue aan hom besorg het. Maar Taylor was van nature ’n woelige, aggressiewe vegter, en in die vierde ronde – teen die kenners se verwagtinge in – laat sak hy Anaya op sy knieë vir die telling van agt ná ’n goeie sarsie houe.

In die sesde en sewende ronde slaan die twee kapokke mekaar van hoek tot hoek in die kryt, maar in die agtste tref Anaya uiteindelik vir Taylor met sy legendariese linkerhaak. Die Suid-Afrikaner val, staan moeisaam op, kry nog ’n paar voltreffers en val weer.

Die radiokommentator Gerhard Viviers vertel met ’n grafstem vir luisteraars landwyd (dit was voor die koms van televisie) dat hy nou die uitklophou en die einde van die geveg gaan beskryf. En Taylor val inderdaad vir ’n derde keer.

Die skeidsregter, Stanley Christodoulou, tel . . . en Taylor kom tog weer op die been. Sy helpers wil die handdoek ingooi, maar tel per ongeluk sy japon op. Terwyl hulle die handdoek soek, lui die klok vir die einde van die ronde.

In die volgende ronde veg Taylor terug en slaan amper vir Anaya uit. Net die toue hou die Mexikaan staande. In die tiende slaan Anaya weer vir Taylor plat met drie linkerhaakhoue. Taylor kom orent, met sy regteroog nou heeltemal toegeswel, en in die 11de, 12de en 13de ronde klim die twee opnuut onder mekaar in.

En toe, die dramatiese 14de ronde. Twee weke ná die geveg beskryf Taylor die aksie só aan die boksskrywers Chris Greyvenstein en Chris Lessing:

“Ek het uit my hoek gekom en ’n klomp regters na Anaya gegooi en hy het na my linkerkant toe padgegee. Ek tref hom toe met ’n goeie linkerhaak en sien hoe hy verstyf.

“En toe sit ek álles in met ’n regter na sy kakebeen. Dit het getref. Pieng! Ek kon voel hoe die skok van die hou langs my arm afhardloop, deur my lyf tot in my bene.

“Ek het dadelik in die lug gespring en nie eens gekyk hoe Anaya val nie. ‘Hy’s weg! Hy’s weg!’ het ek geskree en skaars gehoor hoe Stan Christodoulou my beveel om na die neutrale hoek te gaan sodat hy kon begin tel.

“Ek het weer dieselfde silly ding aan Pat Jackson [afrigter] geskree: ‘Hy’s weg!’ Pat het my tot my sinne geruk toe hy terugskree: ‘Hy’s besig om op te staan!’

…8…9…10! Die Burger se fotograaf Eugene Labuschagne se ikoniese foto van die oomblik toe Arnold Taylor kapokgewig-wêreldkampioen geword het. Taylor se helpers klim reeds deur die toue om hom geluk te wens. Foto: Eugene Labuschagne

“Eers toe ek omdraai en na Anaya kyk, sien ek hy roer so effens. Jeez, het ek gedink, hierdie ou gaan wragtag wéér opstaan! Skielik het dit gevoel of ’n swerm skoenlappers in my maag losgelaat is.

“Ek draf toe nader om te gaan kyk, en wat ek gesien het, het my oortuig die fight is verby. Ek het my steeds nie aan die skeidsregter gesteur nie en aan Pat teruggeskree: ‘Nee, man, hy is rêrig uit!’ Eers toe kon Christodoulou my tot in die neutrale hoek kry sodat hy kon begin tel.”

So het “Spiekeries” Viviers die laaste oomblikke van die geveg oor die radio beskryf:

“Taylor beweeg vorentoe, steek sy regter uit, hierdie keer nie met heeltemal soveel venyn nie en ek glo nie heeltemal so sekuur nie.

“En dit is Anaya daar in die binnegevegte wat in hierdie stadium die beste daaraan toe is, as hy twee houtjies daar verwissel, twee houe daar terugsteel op die teenaanval . . . MAAR DAN KRY TAYLOR DAAR ’N PRAGTIGE HOU IN!

“En daar lê Anaya! Daar lê Anaya! Hy lê op die naat van sy rug! Hy kry ’n regter, hy lê op die naat van sy rug! En hy word getel . . . [stilte] Hy’s uit! Hy’s uit! Hy’s uit! Hy’s uitgeslaan!”

  • Taylor het nooit volkome herstel van die straf wat hy verduur het nie en het sy kroon in sy eerste titelverdediging aan Soo-Hwan Hong afgestaan.

Hy is in 1981 in ’n motorfietsongeluk dood.

Bronne: Chris Greyvenstein: The Fighters; Klankopname: SA Sporthoogtepunte

Romeo Anaya 1946-2015

Die voormalige WBA-kapokgewig-bokskampioen Romeo Anaya is verlede week op 69-jarige ouderdom in Mexiko dood.

Anaya se eerste professionele geveg was op 25 Julie 1965, en hy het die kapokgewig-kroon op 20 Januarie 1973 verower toe hy vir Enrique Pinder van Panama in die derde ronde uitgeslaan het. Daarna het hy sy titel suksesvol verdedig teen Rogelio Lara en in ’n herontmoeting met Pinder voor hy dit aan Arnold Taylor van Suid-Afrika afgestaan het.

Ná sy nederlaag teen Taylor het Anaya sy vonk verloor en net nege van sy volgende 24 gevegte gewen. In sy loopbaan het hy 46 gevegte gewen en 19 verloor. – SuperSport 

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.57
+0.0%
Rand - Pond
23.20
+0.1%
Rand - Euro
19.96
+0.0%
Rand - Aus dollar
12.22
-0.0%
Rand - Jen
0.12
-0.0%
Platinum
983.39
+0.7%
Palladium
960.00
+0.4%
Goud
2,316.14
+0.3%
Silwer
27.58
+0.9%
Brent-ruolie
83.58
+0.5%
Top-40
70,939
0.0%
Alle aandele
77,177
0.0%
Hulpbronne 10
60,903
0.0%
Industriële 25
107,610
0.0%
Finansiële 15
16,775
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos